(Ons het Vrydag al in Windhoek aangekom maar was besig om admin op datum te kry. Ons vertrek later vandag weer op pad na Tsumeb en Rundu en wou darem net so iets oor laasweek sê)
Ons is weer terug in Windhoek. Ons was vanaf Maandag tot Vrydag op die pad. Dit was ‘n goeie 2 060km en het ons net mooi oor die breedte van die land geneem. Sossusvlei aan die Weste en Kalahari in die Ooste. Weereens is ‘n mens sterk onder indruk van toerisme en dat baie van die land se bedrywighede daarom draai. So onherbergsaam soos die landskap lyk, so kontrasterend luuks is die akkomodasie. Dis wel pragtig gekamofleer in boustyl sodat dit werklik pragtig met die omgewing saam smelt. Ja, dit beteken baie klip word vir mure gebruik en strooi vir dakke. Dit sit ook tussen rotse en duine versteek, sodat dit jou aan wegkruipertjie laat dink. Omdat klip en strooi gebruik word wat ‘n baie aardse karakter aan die buite kante van die geboue gee, is die binne kante ‘n verrassing. Keurige en stylvolle materiale en meubels word gebruik om die interior mee te versier. Die vermoeide toeris moet die ervaring van ‘n oase beleef.
Die volgende ontbyt was werklik ‘n besonderse ervaring. Nou moet ek ook sê, ironies genoeg het ons ‘n smaakliker ontbyt by ‘n minder luukse hotel gehad, nl by Stoneys Country Lodge op Gochas. (in die aand dink jy die naam moet goggas wees, want sowat van ‘n vlieende insek en motte geroesemoes het ons lanklaas beleef((Dirk voel die noem van muskiete moet ook ingevoeg word))
Ons het by Sossusvlei Lodge ontbyt gehad. Wel-wel, die gebou se styl het ons baie aan Morokko se boustyle laat dink. Dis in die rooisand van die Namib woestyn genestel. (Die woord nestel pas pragtig hier, want dit lyk of die sand die plek omvou. Omdat hulle dieselfde rooi kleur van die woestyn sand vir hulle mure gebruik, is dit ‘n in-een-vloei van gebou en woestyn)

Ja, die gebou se beskrywing en atmosfeer kan my nog ‘n hele rukkie besig hou. Natuurlik is daar ‘n swembad en as jy daarin sit is dit so gelee dat die uitsig daarvan jou in een laat vloei met die droe rivierbedding en woestynsandwalle, maar as jy verder om jou kyk is dit groen gras en heerlike koelte sambrele met palms. Verder is daar ook fontein met lopende water geskep om die koelte van die water in die gebou in te bring. Die eet-area is hoofsaaklik vir buite ingerig. Ook die stoep se randmuurtjie is van so aard dat jy die kleinvolk(akkedisse, grond-eekorings, allerhande voels, ens) van die woestyn kan dophou terwyl jy eet.) Maar nou moet jy die kos sien om dit te waardeer, moet ‘n mens besef, 99% van die produkte moet aangery word en dit klink my die meeste kom van SA af. Daar is jou gewone spek, eiers, wors en ontbytgrane, maar beslis meer van ‘n keuse as die normale. Vars vrugteslaai en om die keuse groter te maak, ook ‘n verskeidenheid van ingelegde soorte vrugte. Yoghurt, omtrent 4 geure om van te kies. Dan het jy die koue vleise en ook salm en nog ‘n vis wat ek nie ondersoek het nie. Die kase is die soorte waarvan die Europeers hou, soos bv. Emantaller, ens. Die brode is dan ook tenminste 5 verskillende soorte om van te kies. Die bruin en wit is nie hierdie vierkantige skoenboks soorte nie, nee, heerlike ovale, rondes en wat nog. Tot rog en hierdie donkermele soos die Duitsers van hou. Natuurlik vrugtesappe en weereens kan die Europeers nie kla nie, want die koffie is voortreflik. Natuurlik is die rooibostee ook orals en veral in hierdie deftige plekke, is dit ook nog in ‘n verskydenheid van keuses. Nou ja, toe ons daar klaar was, nodeloos om te sê, ons was amper pe geeet, maar darem goeie krag ingekry om die dag verder aan te durf.
Dit was ‘n rowwe dag, want ons het 7 punte besoek en opgeskryf. Die ritte tussen elkeen was nooit minder as ‘n 20+ kilos nie en sommige tot 80 km(die afstand is nie so indrukwekkend nie, maar dis paaie wat jy dikwels nie vinniger as 60km per uur op kan ry nie.) En die sand/stof is later net mooi oral in en oor jou. Genoeg dankbaarheid vir ‘n “aircon” kan ek nie hê nie. Groot was ons dankbaarheid toe ons by die laaste besoekpunt van die dag kom. Ons het gereken om te kamp, m.a.w. in die daktent slaap, maar toe bied hulle vir ons ‘n kamer aan teen kamptariewe. Mensig is dit ‘n verligting as jy nie eers kamp hoef op te slaan voordat jy die nag tot ruste kom nie.
Ons Fortuner gedra hom baie goed en ons het alles en nog ‘n klomp onnodige goed. Ons het alreeds twee van hierdie ammobokse in Windhoek gelos en na hierdie rit gaan ek nog twee verminder en ook hier in Windhoek los. Op die oomblik beteken baie van die goed net ‘n onnodige spasie vullers en dat jy so baie goed moet verskuif as jy kamp opslaan. Omdat ‘n mens die meeste van die tyd in sand en grond staan, probeer jy om die goed in die Fortuner te hou, maar dit laat my dink aan hierdie speletjies soos tetris, jy skuif die een ding om in ‘n ander se spasie te pas en netnou moet dit weer in ‘n ander spasie om iets anders oop te kry. So op die ou end voel ek soos ‘n veldmuis, voortdurend besig, maar daar gaan werklik min aan.
Dirk is in sy element - mensig, ek het net nog nie so iets aanskou nie. Ek wonder of ek al veel meer as ‘n 500km van die 5 000+ km gery het (by gesê, dit was hoofsaaklik net teerpaaie), want Dirk sou nie graag van sy grondpaaie wil afstaan nie. Gister het ons ‘n roete gery wat net gery kan word as jy ‘n 4x4 voertuig het. Dit was ‘n kortpad en glo my, die waarheid oor die hoeveelheid minder kilos of ure is nie debateerbaar nie. Dit is ‘n regte duine pad, die ene sand en net ‘n twee-spoor. Die aankomende verkeer het hulle eie spoor wat ‘n goeie paar meters weg is en net so hier en daar met mekaar kruis.
Nadat ek vir Dirk die stuk tot sover gelees het, was hy baie ontsteld oor my weergawe van hoeveel hy my toelaat om te bestuur. Regstellende aksie, ag ek meen, net regstelling (daardie stukkie is sommer net om te wys ek is nog ‘n Suid-Afrikaner in denke.) Iets wat ek nog nie gese het oor hierdie rondte nie, is dat Geoffrey, een van plaaslike manne, saam met ons moet ry. Omdat ons Fortuner so volgelaai is, moet hy in ‘n aparte voertuig ry. Hy ry hierdie paaie al baie jare en het etlike honderde duisende kilometers op Namibië se gronpaaie gery; hy kan sonder ‘n GPS die meeste plekke vind, en het dus baie gehelp deurdat hy voor gery het en so die paaie aangewys het. Nou hier kom Dirk se verweer; Geoffrey het selde minder as 100km per uur gery en dikwels 120, dit beteken jy moet jou ry ken – want dis GRONDPAAIE..... Nou ja, ek wou nie regtig meer bestuur het nie.
Ek het net weer soveel waardering vir vleis gekry. Eerstens pas dit my o-pos bloed so menu-pas as wat jy kan kry. Dit kan gedroog, gevries, gaar en klaar opgedis oral saam met jou gaan. Groente en vrugte kan nou maar net nie soveel “hammering” op ‘n lang-, rowwe-, stof-pad vat nie. En niemand gee om, om na ‘n uitputtende dag op die pad nog ‘n vuurtjie aanmekaar te slaan nie. So, het ons dan van die dae net op biltong, droewors, en braaivleis geleef; ons het darem moeite gedoen om drinkwater ook te he. ‘n Dieet van vleis en water, en dit doen ons nog net goed.
Vir my is dit ‘n paar dae van terugkeer tot normaal. Ek sal jok as ek se dis net lekker om so te ry. Verstaan my reg, die natuur is pragtig en wonderlik en om al die verskeidenheid te sien en te ervaar, maar dis vir baie kilos aan-een dieselfde. Ek voel soms verveeld en het nou al gevind dit werk ook nie om iets soos lees, skryf, rekenaarwerk, ens te doen nie. Wel, so is daar altyd iets om aan te werk.
No comments:
Post a Comment